Xplorio Overberg

VROUE MET N PASSIE VIR PLANTE. Woorde en Foto’s: Ina Georgala

Passie is die energie wat ons aan die gang hou.

Dit is die dinge wat ons elke dag met opgewondenheid en afwagting vervul. Dit is die krag wat ons help om enigiets waarop ons fokus te bereik en ons help om met vrede en entoesiasme te werk en te lewe – en die beste weergawe van onsself te wees. 

Vir drie vroue van die Overberg, is ‘n diep passie vir plante hul belangrikste dryfveer en inspirasie.

1) Marjolijn Malan – Blomkunstenaar

Marjolijn Malan se klein figuur het die afgelope twee jaar ‘n bekende gesig by die NAMPO Kaap landbouskou op Bredasdorp geword. Sy is die meesterbrein agter die indrukwekkende Blomsaal, waar besoekers van regoor die wêreld deur blomkuns aan die inheemse blommeprag en blomkwekers van die Overberg voorgestel word.  In 2018 het sy skougangers verras met ‘n enorme blomkandelaar en in 2019 het sy die wêreld se grootste blompot geskep – ‘n yslike 6 meter-hoë rangskikking gemaak uit ons inheemse blomkwekers se beste produkte.

Haar passie vir inheemse blomme, blomme rangskik en tuinuitleg kom al van kleintyd af. Ouers Joop en Hendrika Zwamborn het hul oudste dogter se belangstelling ten volle ondersteun. Pa Joop het op 10-jarige ouderdom vir haar ‘n blompers gegee sodat sy haar eie herbarium kon begin. Op 14-jarige ouderdom het haar pa, nou 88, vir haar ‘n skaalmodel van hul tuin in Stellenbosch gebou sodat sy kon leer tuin uitlê. Hy het haar ook aangemoedig om in haar hoërskooljare by ‘n bloemiste te werk om tegniese kennis van bloemistewerk op te doen.  “Nie dat ek baie toegelaat is om te rangskik nie,”lag Marjolijn,”ek het meesal net emmers gewas en graskranse gemaak!”

Na skool moes sy ‘n ompad loop om weer by haar passie uit te kom. Alhoewel sy eintlik BSc Tuinboukunde wou swot, het sy uiteindelik ‘n graad in verpleegkunde en verloskunde verwerf.  Sy het nog steeds van tyd tot tyd aan blomskoue deelgeneem, veral aangesien haar skoonma geruime tyd voorsitter van die Stellenbosse Blomme-vereniging was. Eers in die 90s het die blomkoors haar weer beetgepak toe sy en vriendin Hannelie Kotze “onwettig en onwetend” Suid-Afrika by die Wêreld Blommeskou in Toronto verteenwoordig het. “Dit was nog tydens die apartheidsjare. Ons was net gelukkig om toegelaat te word om deel te neem omdat hulle nie SAFU (Suid-Afrikaanse Flora Unie) deelname kon weier as stigterslid van WAFA (World Association of Flower Arrangers) nie,” vertel sy. “Omdat ons eintlik onsself ‘nomineer het, moes ons sonder SAFU se ondersteuning oorgaan en self fondse insamel om daarvoor te betaal.”

Na sukses by die Wêreld Blommeskou het Marjolijn haar al hoe meer op blomkuns begin toespits. Sy het ‘n blommekursus by die bekende Boerma Instituut in Aalsmeer voltooi en toe die (baie moeilike!) SAFU eksamen voltooi om haar as demonstrateur, onderwyser en beoordelaar in blomkuns te bekwaam. Sy was later by SAFU betrokke as die hoof van die panele vir demonstrateurs en onderwysers, en is nog steeds een van SAFU se beoordelaars. Kunsklasse en ‘n sertifikaat in tuinbou, ‘n wye kennis van ons inheemse flora, leergierigheid en ‘n lewendige verbeelding help haar om met internasionale tendense tred te hou.

Haar passie het haar al die wêreld oor geneem na lande soos Japan, Skotland, Ierland, Italië, die Verenigde Koninkryk, VSA, Singapore, Uruguay en Kanada. Sy vertel beskeie dat sy gelukkig was om by al die internasionale blomskoue met ‘n toekenning weg te stap, onder andere met ‘n silwer medalje by Canada Blooms in 2000, ‘n silwer-gilt by die Chelsea Blommeskou en ‘n brons medalje saam met Emmie Pabst in Singapore. Nie dat alle blomskoue ewe voorspoedig verloop nie.

In 2006 moes sy en SAFU President Locia Hartzer na bomaanvalle op Karachi en Islamabad saam met ander afgevaardigdes deur ‘n kordon van soldate beskerm word om aan ‘n seminaar in Pakistan deel te neem. In Uruguay moes sy weer vinnig plan maak om haar blom materiaal betyds die land in te kry nadat daar probleme met die fitosanitêre invoersertifikaat was.”Blomkunstenaars moet maar altyd reg wees met Plan B,” skerts sy.

Dit is duidelik dat Marjolijn se passie vir blomkuns ‘n groot impak op haar lewe gehad het. Sy het deur blomkuns nie net hartsvriende regoor die wêreld gemaak nie, maar haar kuns het haar ook gehelp om lewenskrisisse te oorkom. “Platgetrapte blomme staan mos altyd weer op,” is een van die lewenswaarhede wat sy by blomme geleer het. Sy het ook met blomkuns haar drie kinders ondersteun om hul eie passies uit te lewe. “Ek het vir my jongste dogter se passie vir perdry betaal deur rose te kweek en te verkoop,” lag sy. Deesdae woon Marjolijn op Prinskraal buite Bredasdorp van waar sy demonstrasies regoor die land doen – dikwels saam met haar 6-jarige kleindogter Lara, wat haar ouma se liefde vir blomme rangskik deel.  Sy neem nog aan internasionale en plaaslike blomkompetisies deel en was juis besig om werke voor te berei vir die 2020 SAFU virtuele uitstallings.   Sy het al haar eie stempel op hierdie hoekie van die Sandveld afgedruk met die ondersteuning (en gewillige sweiswerk) van haar lewensvennoot, Dirk Giliomee.  ‘n Rustige versoeningslabirint, pragtige aalwyn en vetplant tuin, asook verskeie kleurvolle blommerang-skikkings orals in die plaashuis wys duidelik dat Marjolijn Malan hier in die Overberg tuis is – en dat haar blompassie nog diep loop.

2) Gretha Engelbrecht – Omgewingsopvoedkundige

Dis nou maar ‘n waarheid van die moderne lewe dat hedendaagse kinders en volwassenes ver verwyder is van die natuur. Oud-onderwyser Gretha Engelbrecht het 12 jaar gelede besluit om haar passie vir die natuur te gebruik om ‘n verskil in die lewens van die Overberg se kinders te maak. Onder die vaandel Bio Explore gee sy klas in omgewingskunde by landelike laerskole in die Theewaterskloof, Swellendam en Kaap Agulhas distrikte. Sy is ook ‘n gewilde spreker by ‘n groot verskeidenheid van organisasies, van kerke tot die Bredasdorp Blomskool, waar sy haar kennis van die Overberg en sy natuurlewe met entoesiasme deel.

Gretha woon op Bredasdorp in ‘n oulike geel en lila-geverfde huis waar haar liefde vir die natuur duidelik in haar tuin te sien is. Sy ken elke sentimeter daarvan soos die palm van haar hand – van jellie oor fungi wat onder boomstompe uitloer tot die Belladonna lelies wat skaam uit die grond begin kruip. Selfs die bloedsuiers wat sy onlangs in haar dammetjie ontdek het, word fyn bestudeer.

“Ek is al vandat ek kan onthou gefassineer deur plante en diere,” vertel sy.”Met vakansiekampe het my maats lekkergoed gekoop, maar ek het met my “tuckshop” geldjie potlode, pen en papier gekoop en al my waarnemings daarin neergeskryf.” Dit is daarom nie vreemd dat sy met haar passie vir die natuur op universiteit ‘n B.Sc in plant- en dierkunde verwerf het nie. Ongelukkig was daar nie veel werk in haar rigting nie, en sy het toe verder studeer aan ‘n hoër onderwysdiploma.  Sy het begin skoolhou en ook as laboratorium tegnikus gewerk. Haar liefde vir proefbuise en mikroskope loop tot vandag nog met haar saam. Nadat sy getroud is, het sy en haar man na ‘n plaas in die Boesmanland verhuis waar sy ‘n nuwe rol as boervrou en ma moes vervul. “Ek het elke vierkante meter van die plaas geken. Almal het gou geweet dat jy op ons plaas niks mag doodmaak nie.  As ‘n mens so natuurgebonde lewe – ons het byvoorbeeld sonpanele, ‘n kragopwekker en gas gehad – kom jy gou agter hoe maklik mense die natuur se balans versteur.”  Gretha het omgewings-bewaringspraatjies by skole begin lewer juis omdat sy besef het dat mense bitter min van hul omgewing weet – en dat hulle ‘n kleiner voetspoor op die aarde kan laat.

Toe sy in 2003 in die Overberg aanland, het sy dadelik op die omgewing verlief geraak. “Dit is die eerste plek waar ek heeltemal tuis gevoel het.  Dis seker maar in my DNS – my ouma was ‘n nooi De Kock van Napier,” lag sy. Die Overberg was vir haar soos die paradys en sy het dadelik haar nuwe omgewing begin verken.  “Ek is nie ‘n konvensioneel godsdienstige persoon nie, maar daar is iets wonderbaarlik magies aan die natuur wat so groots en onbeskryflik is, dat dit sjampanjeborrels binne my losmaak en my bly maak om te lewe!” As omgewings-opvoedkundige vir die Department Landbou se Junior Landcare program probeer Gretha dieselfde entoesiasme en verwondering by haar leerders aanwakker.  Die program is daarop gemik om kinders van laerskool af by die biologiese wetenskappe betrokke te kry. “Dis wonderlik om die “magic” van fotosintese of genetika aan die kinders oor te dra. Hulle  is ongelooflik ontvanklik en so gretig om te leer. Veral wanneer ons saam eksperimente doen en hul speel-speel leer, kruip hulle gou uit hul dop uit,” vertel sy.

In 2008 het Gretha verder studeer en ‘n kwalifikasie in omgewingsopvoedkunde aan Rhodes Universiteit behaal. “Dit het vir my heeltemal ‘n ander perspektief oopgemaak. Ek het besef dat die kind die fokus van alles moet wees, en dat dit my rol is om skoon water, grond en lug vir hulle relevant te maak.”

Omgewingsopvoedingsprogramme is nou wel deur die 2020 grendeltyd in die wielegery, maar Gretha hoop dat die kennis wat reeds oorgedra is in die toekoms saad gaan dra deur passievolle bewaarders van ons omgewing te kweek. Intussen hou sy haar besig in haar kweekhuis, wat ‘n spreekbeeld van volhoubaarheid is.  Dit is aanmekaar geslaan van ou vensterrame en houtpalette wat sy herwin het. Die rakke staan vol plante wat sy vertroetel. Sommige is skaars, andere is plante wat sy ontvang het om gesond te maak. “Dit is maar wie ek is,” erken sy. “Ek is ‘n baie sentimentele mens en wil alles bewaar – van plante tot ou meubels!”

3) Dr. Odette Curtis-Scott – Renosterveld Bewaarder

Dr. Odette Curtis-Scott het al op wêreldverhoë gepraat oor haar passie en lewenswerk: die bewaring van die laaste 5% van die Overbergse Renosterveld. Sy staan sedert 2012 aan die stuur van die Overberg Renosterveld Bewaringstrust (ORCT), ‘n nie-winsgewende organisasie wat spesiaal geskep is om te verseker dat hierdie hoogs bedreigde habitat vir ons nageslag bewaar bly.

Odette is gou om te erken dat sy nie op ‘n konvensionele manier ‘n eko-stryder geword het nie. “As kind het ek baie dokumentêre oor die natuur op TV gekyk. Dit het iets in my wakker gemaak en ek het toe reeds besluit dat ek nie met toe oë vir die verval van ons omgewing deur die lewe kan gaan nie, maar dat ek daadwerklik iets daaraan moet doen.” Na skool het sy eers ‘n B.Tech in natuurbewaring gedoen. “Ek het nie in daardie stadium ‘n spesifieke passie gehad nie en het toe meer op omgewingsbestuur konsentreer,” vertel sy. Intussen het sy met valkejag (falconry) te doene gekry, wat weer ‘n belangstelling in roofvoëls en hulle habitat wakker gemaak het.

Terwyl sy haar meestersgraad in dierkunde by UCT voltooi het, het sy navorsing oor die witkruisvleivalk (black harrier) gedoen en so met die Overberg se Renosterveld kennis gemaak. Na haar meestersgraad wou Odette nie ‘n akademikus word nie en het sy ‘n jaar se befondsing gekry om fisante in die Renosterveld te bestudeer. Sy het ook ‘n navorsingsprojek oor brandbestuur in Renosterveld vir CapeNature gedoen.  Teen 2012 was sy passievol by die voortbestaan van Suid-Afrika se mees bedreigde habitat betrokke en het sy besluit om ‘n organisasie vir die bewaring daarvan te stig.  “Ek glo vas dat ons meer vir bedreigde spesies kan doen as ons hul natuurlike habitat kan bewaar. Die Renosterveld is so ‘n uitgestrekte landskap met soveel faktore wat teen dit tel en so min mense wat dit wil bewaar. Dit is steeds die weeskind van fynbosbewaring omdat mense so baie wanopvattings oor die waarde van Renosterveld het.” Tog is die meeste bolplante op aarde in die Renosterveld aangeteken, met honderde ander bedreigde plant- en dierspesies wat net in die klein lappies onversteurde Renosterveld voorkom. Min mense weet ook dat die Renosterveld die grootste diversiteit van plantspesies op die aardbol huisves – en dat kommerwekkende stukke daarvan elke jaar in die slag bly wanneer dit vir landerye omgeploeg word of deur indringerplante oorgeneem word. Tog kan Odette en haar gedugte span by die ORCT met reg trots wees op wat hulle in 8 jaar vermag het. Amper 3 000 hektaar ongeskonde Renosterveld is al deur spesiale bewaringsooreenkomste met grondeienaars vir die nageslag bewaar. Onder die vaandel van die ORCT word daar ook voortdurend navorsing oor hierdie kosbare habitat gedoen, onder meer by die Haarwegskloof Renosterveld Reservaat buite Bredasdorp. As deel van haar navorsingwerk het Odette al verskeie nuwe plantspesies identifiseer, waarvan twee na haar vernoem is. Haar navorsingswerk het Odette ook ‘n doktorsgraad in plantkunde aan UCT besorg.  In 2014 het sy die Suid-Afrikaanse Botaniese Vereniging se blombewaringstoekenning asook die CAPE Fynbos Bewaringstoekenning vir haar bewaringswerk ontvang.  Die hoogtepunt van haar werk is egter die eerste veldgids tot die Overberg se Renosterveld wat eersdaags vrygestel gaan word. Sy en haar entoesiastiese span medewerkers het 5 jaar aan “Field Guide to Renosterveld of the Overberg” gewerk, waarin 980 plantspesies en 140 dierspesies opgeteken is. “My wens vir hierdie veldgids is dat dit die mense wat die toekoms van die Renosterveld in hul hande hou, se oë vir die wonder daarvan sal oopmaak. En dat almal wat hierdie ryk ekosisteem wil verken, se ervaring daardeur verryk sal word. Daar wag nog so baie ontdekkings op ons!”  Die stryd om die voortbestaan van die Overberg se Renosterveld is nog nie gewen nie, sê Odette.  Een ding is egter verseker: met passievolle mense soos Dr. Odette Curtis-Scott aan sy kant, het hierdie kosbare hoekie van die wêreld beslis ‘n beter kans op oorlewing.

“Every great dream begins with a dreamer. Always remember, you have within you the strength, the patience, and the  passion to reach for the stars to change the world.” – Harriet Tubman