Arniston Spa Hotel

A Woman in Business

Desireé Kleinhans, Suidpunt Potpourri

Aan die Mees Suidelike Punt van Afrika, ‘n hanetreetjie van die Lighuis op L’Agulhas, is daar ‘n baie spesiale winkel. Kunswinkel, Geskenkwinkel, Koffiewinkel…alles in een. En om alles te kroon is daar ook akkommodasie – Potpourri Stay. Desireé Kleinhans is die vrou agter hierdie briljante idee.

Ek sit met ‘n stomende koppie warm sjokolade in my hand en luister na die vrolike geskerts van mense. Ek besoek graag hierdie winkel, dit is my gunsteling geskenke plek. Ek kon nog altyd ‘n gepaste geskenk hier vind. Die gebou is die afgelope drie maande vergroot en ek moet sê die verbeteringe maak regtig ‘n groot verskil. Daar is baie meer ruimte vir besoekers om nou na al die mooi artikels te kyk. Desireé het nou ‘n groter kantoor en daar is ook ‘n raadsaaltjie wat vir vergaderings gebruik kan word.

Suidpunt Potpourri het sy ontstaan gehad in 1997. Op daardie tydstip het Desireé haar eie handewerk hier uitgestal en verkoop en nooit gedink dat sy in 2004 die eienares van die winkel sou word nie. Desireé is lief vir haar winkel en haar werk; sy sê sy bestel omtrent elke dag nuwe “Mooigoed”. Haar begeerte is dat dit wat vir haar mooi is vir ons ook mooi sal wees.

Sy en haar werknemers het ‘n oop besigheidsverhouding en daar is baie selde probleme wat uitgesorteer moet word. En as daar is, sorteer hulle dit daar en dan uit. Die werknemers kom almal baie goed oor die weg en werk lekker saam. Daar heers ‘n aangename atmosfeer.

Desireé se raad aan ander vroue in besigheid is dat jy ‘n passie moet hê vir dit wat jy doen, volg jou hart en luister na daardie stemmetjie in jou binneste. Sy glo dat jy ‘n sukses sal maak as jy ‘n gelowige mens is en alles biddend oorweeg. Desireé se visie vir die toekoms is om die akkommodasie – Potpourri Stay – uit te brei. Dit is loopafstand van die Lighuis en baie populêr.