Arniston Spa Hotel

STRANDVELD STORIES

Ek staan op van die rekenaar af om tee te maak, en almal weet ek kan nie sonder my tee nie! My kop maal met al die inligting rondom die families wat hulself in die vroeëre jare hier in die Strandveld kom vestig het. In ons vorige Strandveldstorie het ons verwys na Matthys Rostock wat gesien word as die stamvader van die Lourens stamlyn uit die Overberg.   Hy was eers getroud met Maria Beukes en het op Soetendalsvallei geboer.   Daarna word daar vermeld dat hulle geen kinders gehad nie maar hy trou weer op 19 Desember 1751 met Dina Maria Uys. Die bronne wat ek geraadpleeg het was nie duidelik oor wat van Maria geword het nie.  Ek het gedink die lesers sou graag wou weet, en ek het ‘n versoek gerig vir enige iemand wat lig kan werp, om die tydskrif te kontak. Volgens Johan Lourens wat navorsing doen oor die Lourens familie kan ons slegs uit die opgaafrolle aflei dat Maria iewers tussen 1 Mei 1751 en 19 Des 1751 oorlede is.

Buiten die Lourens familie, kom daar nog ‘n paar Vanne ter sprake soos Van Breda, Albertyn, Swart, Wessels, Uys, Van Der Bijl, Van As, Fletcher, Pratt en Germishuis, Natuurlik pronk die Strandveld ook met ‘n hele paar bekendes soos Jan en SD Fourie, Audry Blignaut, Con De Villiers, Dok Kruger, Piet van As, Suzaan van Rensburg, Wilna Stockenström,  SJ DuToit …kom mense praat saam, wie is daar nog?

Jan en SD Fourie is beide kontreiskrywers en het ‘n privaat museum op Franskraal gevestig. Jan beman die museum en SD doen bemarking en die twee is reeds landwyd bekend vir hul Spoke en Legende Toere. SD is ook ‘n toergids en spesialiseer veral in kultuur historiese toere. Die klein museum is ‘n skatkis vol inligting en artefakte oor die Strandveld en sy geskiedenis. Dit is die grootste versameling in privaat besit.

Piet van As is een van die laaste werklike Strandvelders en ek verstaan dat hy saam met sy neef, Boet Swart van Rhenosterkop en buurman Stiaan Lourens van Brandfontein, al hierdie ou stories gereeld herleef terwyl daar ʼn lekker vissie op die kole is. Piet staan ook bekend as Piet Prentjies, hy teken met ʼn eie kenmerkende humoristiese styl. Hy het byvoorbeeld van die boeke van Jan en SD geillustreer. Hy is besig met ‘n boek met Strandveldstories… Hier is so ‘n lusmakertjie!

‘n Strandveldse Winter – Piet van As

Skemeraand bars buurman saam met ‘n wilde vlaag koue nat wind by die kombuisdeur in en ek haal by voorbaat die halfbottel sherrie tussen die potte, panne en kastrolle uit, want toe bedink ek al lank ‘n verskoning om ‘n vloeibare warmte van bo af tot by die voete verby in my verkluimde lyf te kry. Buurman haal twee waterglase uit die kas en weet ek dat die bruin bottel dit nie tot etenstyd sal maak nie. Gelukkig ook dat die pot boontjiesop al vroegmiddag sy kwota soet ingekry het.  Nog ‘n halfglas toe my Marie nie kyk nie en klink die bloep-bloep onder die deksel sommer anders.

Boontjiesop soos my oorlede ma dit gemaak het. Dik met spikkelboontjies, ‘n paar dik murgbene, ‘n klompie vet varkvelle, ertappels en breekmielies. Hoeveel sout en ander bygoed kan ek nie onthou nie, maar reken buurman dat dit so ‘n titsel moet wees. Hoeveel ‘n titsel ook al is. ‘n Grote warm bruinbrood uit die oond en botter met triekel.  Genadiglik geen ander bykosse soos groente en slaaie nie, want wie het dan nog plek vir sulke goed na drie of vier borde bruin lekkerte al die holtes en gaatjies van jou maag volgeloop het.

Saam onthou buurman en ek so ‘n koue sopaand by familiemense wat jare terug daar op die rand van die groot soutpan gewoon het. Moes dit ‘n iemand se verjaarsdag of so iets gewees het, want almal in die omgewing was daar.  Sommer van vroeg af daardie Saterdag met nat modderpaaie op die werf aangekom. Die Wiesdriwwers met oom Dirk se lorrie, omdat die drif toe al klaar van kant tot kant onder water was en die Bovleiers saam met die Soutbossers op ‘n perdekar omdat hulle ryding se drade en ander binnegoed langs die pad nat geword het.

‘n Lang stuk bloekomstomp met die een kant op ‘n stoel se leuning en die ander kant by die Dover se deurtjie in. Op die stoof daardie vreeslike grote pot sop en ‘n koffieketel met  ‘n stoompie by die tuit uit soos die treinengin op Bredasdorp se stasie ook maak. Nie dat daardie ketel veel aftrek gekry het nie, want staan daar ook ‘n sesmankan  soetwyn tussen die bekers, koppies en glase op die kombuistafel . Weet ek ook nie hoekom daar ‘n voorhuis in daardie woning was nie, want sit die hele Strandveld die hele kombuis vol en het oom Rooijan Geelrug skaars plek vir sy kitaar se steel. Noel Soutbos werskaf sy konsertinatjie tussen sy bene en Pa en oom Boeta Nosterkop, altwee op die houtkis ingedruk, het ‘n kitaar en ‘n mondfluitjie tussen hulle, maar is dit so al of hulle hul eie musiek maak.

Raas die wind om die huis en die reën teen die venster toe dit so effe stil raak om die glase en bekers vol te maak en kry oom Dick, waar hy styf tussen twee lywige vrouens op ‘n houtbankie sit, kans om met groot gebaar te vertel van die afgryslikste spook wat hy een laataand op die pad Brandfontein toe by die lynhek raakgeloop het. ‘n Wit gedaante sonder arms en bene wat die naarste geluide gemaak het. Onthou Piet Smiles droogweg van waar hy styf langs die stoof ingedruk sit van sy ou bont melkkoei wat altoos so na Renosterkop se kant toe afdwaal.

‘n Blits en harde donderslag skrik ons kinders onder die grootmense se blaaie in en oom Thys Pan skink sy beker mis toe die kombuisdeur met ‘n slag oopwaai. In die dowwe lamplig staan daar ‘n figuur in ‘n lang donker jas en serp om sy nek. Een van die meisies gee ‘n dun gilletjie en vanuit die hoek waar oom Pieter Soutbos agter ant Ousus ingeskuif het, ‘n geluid soos ‘n vleipadda maak.

Die mens met die jas waarvan die een mou so half leeg lyk, haal sy hoed af en maak so ‘n ligte buiging die kombuis in. Grootoogmense en toeoogmense met net die grootpot wat op die Welcome Dover bloeb-bloeb en die wind se koue gekla. “Ladies. Gentlemen. Do you mind if I join your party?”