Xplorio Overberg

Kom vier Valentynsdag – Overberg Styl

Valentynsdag kan nogal ‘n stresvolle spulletjie wees – veral as mens ten spyte van jou plat sak regtig iets spesiaal vir jou geliefde wil reël. Gelukkig vir ons Overbergers is daar so baie om te doen in die omgewing, dat jy met net ‘n bietjie kreatiwiteit ‘n onvergeetlike ervaring kan bymekaarsit. En dit sonder dat jy eers ‘n draai by die bankbestuurder moet gooi!

Bak en brou

Die pad na ‘n man se hart loop deur sy maag, lui die gesegde.  Maak daarom van Valentynsdag ‘n gastronomiese fees en bak en brou al julle geliefkoosde geregte om saam-saam te geniet. Begin die dag met ‘n romantiese ontbyt in die bed vir twee, pak vir hom of haar ‘n spesiale pakkie met tuisgebakte lekkernye vir middagete in en sluit die aand af met ‘n romantiese ete by ‘n plaaslike restaurant. As jy na al die uitgawes oor Kerstyd nie ‘n deftige restaurant kan bekostig nie, dek sommer ‘n mooi tafel in jou agterplaas, tooi dit met kerse en sleep skoonma se resep vir sy geliefkoosde gereg nader. Vir nagereg staan al die tannies van jou plaaslike tuisbedryf natuurlik gereed met die heerlikste soetgoed om julle aand ordentlik af te rond.

Pak ‘n piekniekmandjie

Sit ‘n dag se verlof in, los die kinders by die skool en sluip weg vir ‘n idilliese piekniek êrens moois terwyl die weer hou.  Die Overberg het ‘n oordaad van berge, damme, riviere, klowe en kilometers strand om van te kies en te keur. (Maak net seker dat jy eers toestemming vra voordat jy privaat eiendom betree. Daar’s niks wat die romantiese luim soveel kan bederf as ‘n kyk in die loop van ‘n ontstoke boer se haelgeweer nie!) Daar gekom en met julle gemaklike kombers en kussings uitgesprei onder ‘n heerlike koelteboom, kan julle wegval aan julle piekniekmandjie gevul met plaaslike wyn, olywe, kase, vrugte, brood en neute. (Moenie die sjokolade en vonkelwyn vergeet nie!) Beste van alles: niemand het nodig om te kook of op te was daarna nie.

Boek ‘n bederfie

Die Overberg het ‘n hele paar spa’s en bedrewe skoonheids-terapeute waar julle heerlik kan ontspan terwyl al die stres van die eerste paar weke terug by die werk uitgemasseer word.  Die meeste spa’s bied op Valentynsdag eksklu-siewe pakkette vir paartjies aan. Mens moet net gou spring met jou bespreking, want hierdie pakkette verkoop gewoonlik vinnig uit. Indien julle jul spa-geleentheid misgeloop het, kan julle natuurlik ‘n mini-spa in jul eie bad- of slaapkamer inrig.  Kyk gerus saam ‘n paar YouTube videos            oor massering vooraf. Dis net om seker te maak dat julle nou nie mekaar in die proses seermaak nie. Skaf dan lekker masseer-olie aan, haal die beste handdoeke en linne uit, steek lekkerruik kerse aan, sit strelende musiek aan en siedaar!

Volg ‘n wynroete

Die Overberg spog met ‘n magdom kelders wat enige wynproewer se hart warm sal laat klop.  ‘n Stadige sirkelroete deur die pragtige natuurskoon van ons streek sal julle by die meeste van hulle uitbring. Vir die manne wat eerder ‘n bierbeker as ‘n wynglas in die hand vashou, is daar natuurlik ‘n hele paar plaaslike brouerye om van te kies. Julle kan selfs so ver gaan as om die jenewers wat in ons streek gemaak word te beproef.  Hou net matigheid voor oë en sorg vir ‘n sober bestuurder terug huistoe. Niemand wil Valentynsdag in in polisiesel deurbring nie!

Gaan op Safari

Die Overberg spog met oor die 16 provinsiale, nasionale en privaat natuurreservate en selfs botaniese tuine.  As julle natuurmense is, is daar niks lekkerder as om ‘n dag weg te breek en ‘n bietjie wild te gaan kyk nie. Trek julle beste safari-klere aan, gryp die verkyker en voëlboeke en gaan verken ‘n reservaat.  Die luies onder ons verkies om dit sit-sit uit die gemak van ‘n voertuig te doen, maar heelwat van ons reservate het heerlike voetslaanpaaie en bergfietsroetes vir die fikses.

Breek weg

As jy op Valentynsdag moet werk, kan jy nog steeds in jou geliefde se goeie boekies kom deur vir julle ‘n lekker wegbreek-naweek te reël.  Met soveel akkommodasie om van te kies en te keur, is daar opsies wat elke sak sal pas – van luukse boetiekhotelle tot by plaasopstalle.  Dis boonop buite seisoen, so hou die plaaslike koerant en webtuistes dop vir spesiale aanbiedings.

Voer die adrenalien

Ons weet jy sou eerder na een van ons uitstekende kunsgalerye of museums wou gaan, maar partykeer is dit nodig om ook ‘n plan te maak vir die adrenalien-verslaafdes onder ons.  Bespreek ‘n 4×4 roete,  klim in ‘n kayak en roei deur die golwe, gaan kyk haaie, vat hom die diepsee in op ‘n visvang uittog, swiep deur die boomtoppe in ‘n harnas, abseil teen ‘n krans af – julle kry die prentjie.

Net ‘n bietjie liefde

My wyse ouma het altyd gesê ‘n mens moet liefde wys om liefde te ontvang.  Watter beter viering van ‘n dag wat vir liefde gemaak is, as om ‘n bietjie liefde uit te deel? Gaan lê gerus besoek af by julle plaaslike tehuis vir bejaardes en neem vir die omie of tannie wat daar eenkant sit sjokolade of ‘n blommetjie. Of bewys liefde aan ons viervoetige vriende en gaan help uit by die plaaslike dierebeskermingsorganisasie.  Of help vir buurman om sy gras te sny.  Of raak betrokke by een van die Overberg se droogtehulp aksies… want eintlik is dit ware Overberg-styl – om die mense rondom ons lief te hê, 365 dae van die jaar.