Xplorio Overberg

HERLEWINGSLANDBOU: VERSTAAN EN HANTEER JOU GROND BETER deur Jan Greyling

Boere moet ‘n kopskuif maak en besef dat grond ten eerste biologies van aard is.

Die fisiese en chemiese samestelling daarvan is nie altyd die belangrikste nie. Grond is eerder ‘n lewendige, interaktiewe en dinamiese ekosisteem as net ‘n groeimedium.  Deur herlewingslandbou word die boerderystelsel se prestasie met tyd verbeter deur biologiese werking te verbeter. Natuurboerdery, soos dit ook genoem word, gaan nie oor toerusting of ‘n nuwe stelsel nie. Die belangrikste is om deur kennis jou unieke landbouproduksie-ekosisteem ten beste te verstaan. Vir afgevaardigdes by ‘n Landbouweekblad Herlewingslandbou-konferensie buite Stellenbosch het die hoofspreker, prof. Buz Kloot nie soos ‘n vreemdeling gevoel nie. Kloot is ‘n medeprofessor aan die Universiteit van Suid-Carolina in die Verenigde State van Amerika (VSA).  Hy is in Namibië gebore en het daar en in Kaapstad grootgeword. Sy liefde vir Suid-Afrika en Afrikaans maak sy passie en boodskap oor grondgesondheid, sy hartstaal. Deur sy vlytige gebruik van Afrikaans het die  uitdrukking “dit sallie werkie“ in Amerika posgevat. Hy het wat natuurboerdery betref dit egter omgeswaai na “hier kan dit werk“.

Prof. Kloot was een van sewe sprekers by die konferensie, wat op Morgensrust op die Joostenbergvlakte gehou is. Om sy bevindinge en veral die positiewe resultate met herlewingsboerdery, oor ‘n typerk van sewe jaar te bevestig, het hy mnr. Jason Carter, een van verskeie Amerikaanse boere wat onder sy leiding herlewingslandbou beginsels in Suid-Carolina toepas, saamgebring.

Me. Lisa Smorenburg, ‘ n navorsingstegnikus by die Tygerhoek Navorsingsplaas van die Wes-Kaapse Departement van Landbou het haar ervaring tydens ‘n onlangse herlewings-landbou toer na die VSA gedeel. Haar fokus was op die impak van dekgewasse en geintegreerde natuurboerdery in die Kaap. Vanuit Prieska kon mnr. Bertie Coetzee van Lowerland hul sukses met saamgestelde natuurboerdery, wat mielies, koring, vleis, wyn, pekanneute, pampoen en heuning insluit, aan die gaste oordra.

Nader aan die Wes-Kaapse boer se eie leefwêreld het mnr. Hendrik Pohl, bedryfsbestuurder op ZZ2 se vrugteplaas by Ceres hul lesse en suksesse met biologiese beginsels in appelboerdery oorgedra. Mnr. Johan Ryeneke, eienaar van Reyneke Wyne digby Stellenbosch, het afgevaardigdes met sy idees oor die skep van ‘n natuurlike terroir vir unieke wynproduksie geboei.

“Om herlewingslandbou toe te pas beteken om ‘n veskeidenheid getoetste en ongetoetse beginsels toe te pas.

Dit is nie net die verandering van een of twee stukke boerdery gereedskap, soos kunsmis, beeste, skape, werktuie, rotasiestelsels of dekgewasse nie. Die boer bepaal self hoe hy dit doen. Grondgesondheid is ‘n keuse met langtermyn voordele, waardeur herlewingslandbou aan die gang kom,“ meen prof. Kloot.

Hy wys daarop dat hoewel ‘volhoubaar’ – veral in Suid-Afrika –  ‘n baie belangrike woord bly, word dit nie meer  in Amerika in grondgesondheidsprogramme  gebruik nie omdat volhoubaar-heid van ongewenste beginsels en van ongesonde grond verkeerdelik volhou word.

Meeste van prof. Kloot se navorsing word in oorleg met wat hy ‘boere-wetenskaplikes’ noem op hul plase in Suid-Dakota en Suid-Carolina gedoen. So, van watter waarde kan dit dan nou vir Suid-Afrikaanse boere wees? „Uitstekende vraag,” meen hy. “Soos die VSA is Suid-Afrika se landboutoestande baie uiteenlopend. Daarom is dit belangriker om oor die volgende vyf beginsels van grondgesondheid te dink, eerder as oor boerderymetodes“:

  • Minimale steuring van jou grond: fisies, chemies of biologies.
  • Hou jou grond reg deur die jaar bedek met deklaaggewasse of plantreste waar dit sin maak.
  • Hou vir soveel as moontlik dae per jaar lewendige plante in jou grond, soos kontantgewasse, dekgewasse of plant-wortels.
  • Verseker verskeideheid deur wisselbou om sodoende die natuur na te boots.
  • Doelgerigte inskakeling van veevertakkings by jou grond gesondheidprogram op ‘n graanplaas – iets waarmee die VSA nog sukkel, maar waarmee Suid-Afrika goed vorder, aldus Prof. Kloot.

Hy onderskei tussen bewaringsboerdery en herlewingslandbou. Geen bewaringsimplement kon nog tot nou toe ontwerp word om die gehalte van grond te verbeter nie. “Herlewings-landbou het reeds internasionaal en in Suid-Afrika bewys dat grondgesondheid deur bestuur verbeter kan word.“ Hoewel daar rolspelers is wat skepties staan oor data, meen prof. Kloot die bewyse dat hierdie vyf beginsels deeglik werk, lê in die boere se eie tevredenheid met hul grond se prestasie.  “Ons jaag nie groter opbrengste na nie, maar langtermyn verbetering van produkgehalte, landerye, boorde en wingerde. In die VSA sien ons na die eerste drie tot vier jaar van dekgewasse, boonop geringe toenames in opbrengs per hektaar.“

Prof. Kloot meen daar is verseker besparings vir die boer in herlewingslandbou opgesluit. “Daar is egter nog nie genoeg huiswerk oor die breër spektrum gedoen nie.“ Sy werk fokus op die afname in kunsmisgebruik weens herlewing in biologiese aktiwiteite in die grond. Dit volg weens minimum bewerking, dekgewasse, wisselbou of beplande inskakeling van vee by saaigewasse. “Besparing is opgesluit in verminderde insetkoste, weens die werk wat die natuur doen om kalk, fosfaat en kalium behoeftes te verminder.“

Prof. Kloot gebruik Rick Haney se H3A-dele per miljoen-toets (ppm) om te meet wat die grond se samestelling en tekortkominge is. Totale Organiese Koolstof (WEOC) en Totale Organiese Stikstof word radikaal deur herlewingslandbou bevoordeel. In die VSA is bewese besparings gelyk aan tussen US$50 en US$70 per akker. Dit sluit nie besparing in deur nuwe grondlewe, toename in organiese materiaal en besparings op plaag- en onkruidbeheer middels nie. Hy sê wanneer boere die resultate van veelvuldige dekgewasse na drie tot vier jaar sien maak daar deure oop na talle nuwe gewasopsies.

Nuwe lewe

Mnr. Carter plant sedert 2012 ‘n ses-spesie dekgewas mengsel op sy mielie- , sojaboon en katoenplaas in Suid-Carolina. Vanaf April 2014 produseer hy mielies met geenbewerking. Sedertdien neem die gronddighteid met rasseskrede af en die natuurlike biodiversiteit van die grond keer ten volle terug. Hy bevestig ‘n prominente herlewing van erdwurms in sy landerye. Sy sojaboon-, katoen- en mielielande is sonder enige plaag- of onkruidmiddels, pes- en bossievry.

In Oktober 2015 is ‘n intense VSA droogte met vloede gebreek. Hy het geen grond verloor nie. Die  biologiese grondlewe is egter vernietig. Sedertdien het hulle reeds teruggekeer na geenbewerking en ‘n veelvuldige dekgewasstelsel op alle landerye. Mnr. Carter beoog om sy dekgewaskeuse binnekort na agt spesies toe uit te brei.

Vrugtebedryf kyk kat uit die boom

Volgens mnr. Matthew Addison word dekgewasboerdery, in harmonie met die natuur, nou sleutelbelangrik in vrugteboer-dery. Hortgro Navorsing ondersoek tans die bestuur van appelherplantsiekte (ARD), appelbrandsiekte en die impak op blomvorming. Hy wys op die verskillende dekgewaskeuses vir onder appelbome en in die trekkerspore, waar kompaktering voorkom. Dekgewasse se mededinging vir die bome se water word ook deur profielgat-ontledings gemonitor. Addison moedig produsente aan om alle verandering met fotos te monitor.

Mnr. Pohl van ZZ2  bevestig meer aktiewe mikrobiologiese grondlewe, beter grond infiltrasie en meer deurligting  vir  verbeterde appelboom gesondheid, met ‘n afname in siektes, weens natuurboerdery. Hy sien grondgesondheid en boomgesondheid as die beste stresbuffer vir beter gehalte vrugte. “In ons harte is ons almal kapitaliste wat boer vir geld. Vir ons is natuurboerdery die antwoord vir groei.“

Mnr.  Johan Reyneke, eienaar van Reyneke Wyne sê hulle het vroeër jare wyn gemaak, maar nou groei hulle dit. Op hul plaas, buite Stellenbosch verstaan hulle die biologiese en mikrobiale samestelling van hul grond nou beter. Ons laat die natuur toe om te bepaal wat in ons wingerde gebeur. Voorheen het ek net met druiwe geboer, Nou boer ek ook met grond,“ sê hy.

Me. Smorenburg van die Tygerhoek Navorsingplaas het bevestig dat goeie vordering met herlewingsboerdery in Suid-Afrika op hande is,  met ‘n pasgoedgekeurde nuwe 13 jaar navorsingsplan hiervoor. Dit sal, onder haar leiding, alle aspek-te van herlewingsboerdery, natuurboerdery en optimale biologiese grondgesondheid insluit.