Arniston Spa Hotel

Die Wynbedryf tel sy kop op

Na ‘n paar baie moeilike jare vir wingerdboere lyk dit asof die wynbedryf uiteindelik besig is om te herstel. Die laaste dekade het baie uitdagings gebied vir wyndruiwe produsente met wynpryse wat jaarliks met minder as inflasie gegroei het terwyl insetkoste, veral arbeidskoste en elektrisiteit, met baie meer as inflasie gestyg het. Die sogenaamde “koste-knyptang” het dus al erger geword. Verder moes produsente al langer wag vir hul geld, van 18 maande tot so lank as 30 maande by sommige kelders, waar hulle destyds al hulle geld in 10 tot 12 maande ontvang het.

Soos die winsgewendheid van wyndruiwe afgeneem het en produsente se kontantvloei al meer onder druk gekom het is daar toenemend oorgeskakel na sitrus en sagte vrugte en is baie wingerde wat uitgehaal is nie weer vervang met nuwe aanplantings nie. Aanvanklik het verhoogde produksie per hektaar hiervoor opgemaak en het dit tesame met uitbreidings deur groter produsente wat dit kon bekostig en wat nie wou oorskakel na ander boerderye toe nie veroorsaak dat die totale wyndruiwe oes steeds toegeneem het. Die afname in die wingerdstand tesame met 3 jaar se droogte en 2 jaar se rypskade het nou uiteindelik sy tol geëis en gevolglik is die voorraadvlakke tans baie laag.

Wat verder bydra tot die positiewe vooruitsig vir wyndruiwe pryse is die feit dat Italië ‘n baie swak oes in 2017 gehad het as gevolg van droogte en ‘n hittegolf terwyl oeste in 2017 ook heelwat laer was in Spanje weens ryp, hael en droogte, Frankryk weens ryp en hael en Duitsland weens ryp. Kalifornië het ook baie druiwe verloor weens veldbrande. Daar is dus skielik wêreldwyd ‘n tekort aan wyn en gevolglik moes wynpryse drasties styg.

Die meeste kelders se 2017 poele is afgehandel en die konsensus is dat pryse reeds ongeveer 10% gestyg het van die 2016 oes na die 2017 oes. Onderhandelings vir die 2018 oes dui daarop dat daar ‘n styging van tussen 15% en 20% realiseer sal word van die 2017 na die 2018 oes. Verder kan  onderhandelaars dalk ook nou die geleentheid gebruik om die betaal terme weer terug te kry na korter periodes terwyl hulle die bedingingsmag aan hulle kant het. So gaan wyndruiwe produsente weer voldoende wingerd begin plant om die huidige wingerd hektare in stand te hou of gaan die tendens van oorskakel na sitrus en sagte vrugte voortduur?

Eerstens is dit onduidelik of dit ‘n volhoubare styging is en of dit net vir een jaar sal hou tot die droogte in die Wes-Kaap hopelik gebreek is en Europa en Amerika ook heel moontlik weer normale oeste het. Selfs na die stygings in die wynpryse soos bo aangetoon vergelyk wyndruiwe se omset per hektaar en wins per hektaar ook nog steeds swak met sitrus en sagte vrugte s’n. Dit is iets wat egter oor die volgende paar jaar drasties kan verander soos die laer wingerd aanplantings en groter sitrus en sagte vrugte aanplantings van die afgelope paar jaar se effek op die aanbod en gevolglik ook op die prys van die produkte begin realiseer.

Die feit dat wyndruiwe minder water en hande-arbeid per hektaar nodig het as sitrus en sagte vrugte maak dit ook ‘n goeie keuse in hierdie tye waar water al skaarser word en arbeidskoste deurlopend met baie meer as inflasie verhoog word deur wetgewing. Verder sal ‘n sterker rand wat ‘n groot moontlikheid is onder ‘n nuwe president die sitrus en sagte vrugte bedrywe meer nadelig beïnvloed as die wynbedryf aangesien ‘n baie groter persentasie van daardie bedrywe se produkte uitgevoer word as by die wynbedryf.

Elke produsent sal self moet besin wat sy strategie vir aanplantings die volgende paar jaar gaan wees, maar dit lyk of wyndruiwe darem weer een van die opsies sal wees.