Arniston Spa Hotel

Braaifees op Villiersdorp

Die Villiersdorpers het hierdie jaar erfenisdag op ‘n baie besondere manier gevier en Hoërskool De Villiers Graaf se onderwysers het met ‘n briljante idee vorendag gekom. Erfenisdag is nou nie net braaidag vir die Villiersdorpers nie maar sal in die toekoms ook die dag van die jaarlikse Braaifees wees.

Hierdie is ‘n geleentheid vir die gemeenskap om bymekaar te kom, groot en klein, jonk en oud. Waar die mense mekaar beter kan leer ken en waar die plaaslike besighede onder mekaar kan netwerk en mekaar se besighede kan ondersteun. Hierdie is ook ‘n insamelings geleentheid om die skool se fonds vir minderbevoorregte studente te versterk en om ook die fonds in staat te stel om beurse beskikbaar te maak. Hoërskool De Villiers Graaf glo daarin om elke kind as ‘n individu op te voed en te ontwikkel om sodoende sy eie potensiaal te bereik. Die kinders van vandag is die leiers van die toekoms en hul opvoeding is van grootste belang – dit vat ‘n gemeenskap om ‘n kind op te voed.

Die fees is uniek omdat dit ‘n behoefte van die dorp is om op ‘n gereelde basis as gemeenskap saam te kom. Dit skep ook die geleentheid vir mense wat daardie dag alleen sou gewees het om omring te word deur egte, omgee mense. Die fees het ‘n eg plattelandse atmosfeer en hierdie is ook ‘n manier om die dorp se erfenis van generasie na generasie oor te dra.

Van die hoogtepunte was natuurlik Bernard Braaibroodjie, Young Buffalo en die Jimmy Boys se optredes. Van die ander aktiwiteite het ‘n Fun Run, uitstallings, kos stalletjies, speletjies, Villiersdorp Troebadoer en vele meer ingesluit. Daar was selfs regte egte outydse boeresport terwyl die braaivleisvure hoog gebrand het. En natuurlik is daar gebraai net soos die plattelanders kan braai! The Overberg Business Magazine het die Junior Entrepreneurs se stalletjies beoordeel en was aangenaam verras met die jonges se kreatiwiteit, ywer en selfversekerdheid. In ons volgende uitgawe sal ons die Junior Braaifees Entrepreneur bekend maak en vir ons lesers ‘n geleentheid gee om ons kinders se krea-tiwiteit te sien.